Friday, May 28, 2010

Wat is vervalste en onvervalste melk van Christus?

Elkeen in Christus gaan deur ‘n geestelike proses van baba tot volwassene.

Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei.

Heb 6:1-2 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.


Hier is die ses “melk” leerstellings van Christus:

-bekering uit dooie werke
-geloof in God
-leer van die doop
-die handoplegging
-die opstanding van die dode
-die ewige oordeel.


1Pe 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,

Net soos Petrus sê is daar babas in Christus wat met vervalste melk gevoed word. Hier volg die vervalste melk en die onvervalste melk van ‘die eerste beginsels van die woorde van God’:

VERVALSTE MELK:

*bekering – “ons besluit self om God aan te neem”;
*geloof – “ons moet ons eie geloof gebruik om God te glo”;
*doop – “fisiese water (min of baie) reinig die gewete van sonde”;
*handoplegging – “fisiese handoplegging dra God se gawes oor”;
*opstanding – “gestorwenes is nou in ‘n fisiese hemel of hel”;
*die ewige oordeel – “net die goddelose gaan geoordeel word en is vir ewige verwerp.”

DIE ONVERVALSTE MELK:

*bekering –

Joh 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

Joh 15:16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag
.

*geloof –

Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;

*doop –

Rom 6:3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.


*handoplegging –

1Ti 5:22 Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.

Luk 6:26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen


*opstanding –

1Kor 15:52 in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.

1Th 4:16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.


*oordeel –

1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Thursday, May 27, 2010

Hoe weet God voor die tyd wat mens gaan doen?

God het geweet wat Adam en Eva sou doen voordat Hy hulle geskep het, want Hy het dit alles in Sy boek geskryf:

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Want God weet die einde van ‘n ding van die begin af:

Jes 46:10 wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

Want mens kan niks doen op sy eie nie, of deur sy eie “vry” wil nie:

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Want God ‘werk alles’ volgens Sy plan en doel!

Eph 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

God werk selfs die goddelose vir die dag van onheil!

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Want niks kan gebeur as God dit nie laat gebeur nie!

Amo 3:3 Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?

Amo 3:4 Sal ‘n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal ‘n jong leeu sy stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?

Amo 3:5 Sal ‘n voël in ‘n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is nie? Sal ‘n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie?

Amo 3:6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?



Oor die almag van God is die natuurlike mens baie ongelukkig want hy glo dit is hy wat alles doen:

- mediese en tegnologiese ontdekkings spog die mens mee!!!
- om tot bekering te kom, glo die mens word bepaal deur “vrye” wil!

Die natuurlike mens kan nie eens God se asem in sy longe erken nie, wat nog te sê om die bogenoemde Skriftekste te glo! Maar die natuurlike mens sal eendag met groot skok, knersing, geween moet erken dit was ALLES van God:

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Wednesday, May 26, 2010

Hoekom maak God wette as Hy weet ons gaan dit breek?

Waarom maak God wette as Hy weet die mens gaan dit breek?

Rom 3:3-4 Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou.

Rom 3:19 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig [Nuwe Vertaling: “strafwaardig”] kan wees;


Almal is ‘doemwaardig’ omdat ons slegs deur die heilige Wet van God (‘soos ‘n basuin’) oopgevlek word dat ons ons toestand kan sien:

Jes 58:1 Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ‘n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes

Rom 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.


Die natuurlike mens het geen idee hoe boos hy is van sy begin af nie, en hoe hy so geword het nie. Hy oortuig dus homself dat hy die wet van God ten volle hou, meer as ander rondom hom. Maar al sou dit moontlik wees vir ons om die uiterlike wette te kon hou, is ons innerlike en onsigbare gedagtes en drange oop en bloot voor God:

Mat 15:18 Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak.

Wat gemaak met die innerlike versteekte boosheid van die hart?

Rom 3:21-24 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.

Geloof is ‘n gawe van God en niemand kry dit omdat hy dit verdien nie!

Gal 3:11 En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.

Ons eerste Adam (in ons vlees) is naak en van stof en benodig die vleeslike wet van God om hom in toom te hou, en dit is die enigste manier om dit ‘wettiglik’ te gebruik:

1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,

Die laaste Adam (Jesus Christus) is ‘Die Regverdige’ met ‘n totale nuwe wet, en die vleeslike wet is slegs gegee vir die ‘wettelose en tugtelose mense’ wat Jesus nooit is, was of sal wees nie.

Daarom geniet sommige (‘n baie klein groep uitverkorenes) ‘die geloof van Jesus’ sonder verdienste as ‘n geskenk van God in hul aardse eon, terwyl ‘die einde’ (dit is die res van God se skepping) dit later sal deelagtig word:

1Kor 15:22-24 Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is ‘n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

Monday, May 24, 2010

Die twee "Adams" waarmee God werk

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

In Genesis het God vyandskap geplaas tussen ‘die eerste Adam’ en ‘die laaste Adam’:

Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.

Hoe het die vyandskap die eerste keer gemanifesteer?

Gen 4:2-5 Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer. En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.

Gen 4:8 En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.


Nog ‘n paar skaduwees (tipes) van die twee Adams se vyandskap:

Esau, die eersgebore tweeling vervolg Jakob en wou hom doodmaak;
Ismael, die eerste geborene van Abram het Isak vervolg;
Saul, eerste koning van Israel vervolg Dawid en wou hom doodmaak;
Die oudste broer het nie gehou dat sy vader die “verlore” broer moes terugverwelkom nie;

Maar die oudste (eerste Adam) is gedoem en sal deur die tweede Adam vervang word:

Mat 20:16 So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

Ons is almal eers die ‘lewende siel’ Adam (ons vleeslike mens met sy tydelike, aardse, natuurlike, duiwelse geaardheid) voor ons almal in ‘die laaste Adam’ verander sal word:

1Kor 15:46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 1Kor 15:47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 1Kor 15:48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 1Kor 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.


En alles (die eerste Adam en die laaste Adam) is deel van God se oorspronklike plan wat min van weet:

Open 1:11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste,...

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

Friday, May 21, 2010

God is soewerein!

Soewereiniteit se betekenis volgens die woordeboek:
1. Oppermagtige heerskappy, oppermag.
2. Wetlik erkende oppergesag.

Is God in beheer van alles of is Hy nie in beheer van alles nie. As Hy nie in beheer van alles is nie, wie is dan? Die natuurlike mens kan nie God in beheer van alles sien nie. Hy sien homself in beheer in die sin van God gee hom (die mens) ‘n “vrye” wil. Hy sien ook dat Satan so ‘n “vrye” wil het. Dit is natuurlik ‘die wysheid van die wêreld’ waaraan almal van geboorte onderworpe is (soos deur God bepaal):

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
1Kor 2:15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.


1Kor 3:19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;

God neem verantwoordelikheid vir alles wat in Sy skepping gebeur:

Jes 46:9 Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie.
Jes 46:10 Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.


God is alwetend:

1Jn 3:20 want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.

Joh 16:30 Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het.


Reeds lank voor ons geboorte is elke minuut van elke dag reeds beplan en bepaal, iets wat die natuurlike mens teen baklei met alles wat hy het:

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

God het geweet Adam en Eva (en ons) sou sondig toe die mens deur hom gevorm was?

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker, maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Rom 8:20 Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.


Kyk hoe het Adam en Eva se harte gelyk by hul skepping:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Mat 5:28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

Vlees (en bloed) was nooit veronderstel om vir ewig te lewe nie. Dit is tydelik (stof). God gaan alles oormaak soos die pot in die hande van die Pottebakker. God weet wat Hy doen. God is nie besig met plan B of plan C, nee Hy is met die oorspronkilke plan besig. Dit is die mens wat nie weet wat God doen nie, self die ‘wyses van die wêreld’ het geen leidraad nie.

Die volgende Skrifte laat die natuurlike mens rooi van woede:

Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Joh 19:10 En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?
Joh 19:11 Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.

Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.


Die natuurlike mens skop en trap teen hierdie waarhede en vra: ‘Nou waarom sal God dan al die onheil, duisternis en verdrukkinge skep?’

Rom 9:20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?
Rom 9:21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?

Heb 2:10 Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.


God is in beheer van alles wat in ons lewens gebeur. Hy het alles beplan en bepaal. Ons kan niks doen om dit te vermy nie. God het dit in sy boek geskryf om te gebeur. Hieroor is die natuurlike mens baie ongelukkig en sal die genoemde Skrifte as die waarheid erken, maar kan dit nie glo as God nie die geloof skenk nie.

Efes 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;
Efes 2:9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Efes 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Wednesday, May 19, 2010

Het die mens 'n "onsterflike siel"?

Die meeste godsdienste en filosofieë wil die bestaan van ‘n “onsterflike siel” promoveer. Baie in die afvallige Christendom glo in die leerstelling asof hul lewens letterlik daarvan afhang. Baie meer neem aan dat die leerstelling in die Bybel voorkom. Nee, dit kom nie in een teks in die Bybel voor nie!

Die leer van ‘n “onsterflike siel” kom lank voor Judaisme, Christendom, Hindoeisme, Boedisme en Islam af aan. So waar kry hulle almal dan die leersteling? By die Egitenare! Die griekse historiograaf, Herodotus (hy het geleef in die 5de eeu vC) was die eerste om die skokkende feit aan die wêreld te skryf in sy boek “History”. Min wil dit weet!

Hoekom glo die meeste godsdienste aan ‘n “onsterflike siel”? Dit gee hulle ‘n soort van gemoedsrus dat hulle self nie eintlik gaan sterf nie, net hul fisiese liggaam. Klink dit bekend?

Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;

So dit is waar die Egiptenare dit gekry het! Net soos Adam en Eva het hulle dit van die slang ‘van ouds’ gekry, die duiwel, Satan, die groot verleier en bedrieër.

Open 20:2 Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.

Hy is nog net so listig en doen sy werk getrou!!! Kyk en hoor rondom ons.

Wat sê die Skrifte oor die ontstaan van ‘n siel?:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.


God het stof geneem, Sy asem daarin geblaas en die mens het ‘n lewende siel geword. Daar het ons dit: ons het nie ‘n siel soos die godsdienste wil voorgee nie, maar ons IS ‘n siel.

Kan ‘n ‘lewende siel’ sterf / vergaan / verderf? Wat sê die Skrifte?

Eseg 18:4 Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

Tweede getuie:

Eseg18:20 Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.

Derde getuie:

Mat 10:28 (Ou Vertaling) En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [oorspronklike Grieks is “geena” – die vuur]. Mat 10:28 (Nuwe Vertaling) Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

Vierde getuie:

Hand 2:27 (Ou Vertaling) Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Hand 2:27 (Nuwe Vertaling) want U sal my nie aan die doderyk oorlaat nie; U sal nie toelaat dat u troue dienaar vergaan nie.

Die getuies almal stem saam dat ‘n siel kan sterf / vergaan / verderwe! Net ‘n geestelike blinde persoon sal met hierdie getuies wil stry.

Baie lieflike, opregte en eerlike gelowiges word binne die afvallige Christendom vasgehou uit vrees vir die hel, en glo gerieflikheidshalwe aan hierdie valse leer van ‘n “onsterflike siel” wat voortleef onmiddellik na ons fisiese dood.

Die siel word wel deur God (die Vuur) vernietig:

Mat 10:28 (Ou Vertaling) En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [oorspronklike Grieks is “geena” – die vuur].

Min glo dat God regtig instaat is om mense van voor af nuut te maak (in gees) soos al die Skrifte dan ook getuig.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Hoe om die Skrifte te ontsluit

1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Die Gees van God leer ons altyd deur geestelike met geestelike te vergelyk, m.a.w. Skrifte met Skrifte. Hier volg nou ‘n paar sleutels vir hulle wat dit kan aanvaar:

1. Gebod op gebod…reël op reël…hier ‘n bietjie…daar ‘n bietjie

Jes 28:9-11 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie. Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek,

Hierdie woorde van die Krag en Gees van God word deur die afvallige Christendom se teoloë as “prooftexting” afgemaak. Hulle kan nie sien dat al die Nuwe Testamentiese skrywers (en Jesus) dieselfde tegniek gebruik en toegepas het nie. Vir die ‘wyses van die wêreld’ het dieselfde tegniek net die teenoorgestelde effek:

Jes 28:12-13 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.

Hulle word met dieselfde tegniek gevang en verstrik.

2. Geen Skrifteks het sy eie verduideliking nie

2Pe 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;

Die woord “eie” in die teks kom van die Griekse woord “idios” af en beteken dat geen Skrifteks op sy eie die volle betekenis het van wat God wil meedeel nie. God het bepaal dat waarheid met twee of drie getuies bepaal moet word, anders word daar met elke vers oploop gegaan, en baie valse leerstellings berus juis op die ignorering van hierdie belangrike beginsel van die Skrifte:

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

3. Waarheid is net in die hele inhoud van die Woord te vind:

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.


Alle buite-Bybelse bronne is aan die ‘wysheid van die wêreld’ gekoppel en onderworpe.

4. Ons lewe van elke woord wat uit God se mond uitgaan

Ons lewe van elke woord wat uit God se mond uitgaan, al weet ons nie eens daarvan nie. Ons onkunde maak ons nie onskudig aan die Wet nie:

Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Hand 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,

5. God se woord verander nooit en weerspreek ook nie God nie

Jesus is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Hy kan nie iets sê op een gedeelte en dan dit weerspreek in ‘n ander gedeelte van die Skrif nie. Die afvallige Christendom sien die Skrifte dikwels as teenstellings en hou hulle self besig met die sogenaamde kontradiksies of paradokse om slegs grade te verwerf en hulself as baie diep voor te stel.

Die Skrifte praat altyd van net twee persone: die eerste Adam en die tweede Adam.

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Ons almal is eers in die eerste Adam voor ons almal in die tweede Adam verander word:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Vir die onvolwassene natuurlike denke is die twee Adams se stryd iets waaroor God geen beheer het nie. Alhoewel baie weet die tweede Adam is die wenner, sien hulle nie dat die tweede Adam die eerste een gemaak, beheer en totaal gaan red nie:

Open 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste

Dit is dus ‘n “somtotaal” wat gesien moet word en nie ‘n “aftreksom” nie. Die hede, die verlede en die toekoms is een persoon, die lewendmakende gees, Jesus Christus:

Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

6. God se woord is ‘n parabool (gelykenis) van begin tot einde

God praat in gelykenisse (simbole/parabole) vir die natuurlike mens om hom te verblind want vlees en bloed kan nie die geestelike koninkryk van God ingaan nie:

Mat 13:9-11 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

Rom 11:8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.

Joh 9:39 En Jesus sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.


Baie sê hulle “sien” omdat hulle natuurlike oë het, maar onkunde is iets vreesliks om te aanskou.

Net God maak die boek (waarvan ons onbewustelik gelewe het van geboorte af) met die sewe seëls oop deur Sy lam wat ‘n leeu is!