Wednesday, May 19, 2010

Hoe om die Skrifte te ontsluit

1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Die Gees van God leer ons altyd deur geestelike met geestelike te vergelyk, m.a.w. Skrifte met Skrifte. Hier volg nou ‘n paar sleutels vir hulle wat dit kan aanvaar:

1. Gebod op gebod…reël op reël…hier ‘n bietjie…daar ‘n bietjie

Jes 28:9-11 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie. Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek,

Hierdie woorde van die Krag en Gees van God word deur die afvallige Christendom se teoloë as “prooftexting” afgemaak. Hulle kan nie sien dat al die Nuwe Testamentiese skrywers (en Jesus) dieselfde tegniek gebruik en toegepas het nie. Vir die ‘wyses van die wêreld’ het dieselfde tegniek net die teenoorgestelde effek:

Jes 28:12-13 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.

Hulle word met dieselfde tegniek gevang en verstrik.

2. Geen Skrifteks het sy eie verduideliking nie

2Pe 1:20 terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;

Die woord “eie” in die teks kom van die Griekse woord “idios” af en beteken dat geen Skrifteks op sy eie die volle betekenis het van wat God wil meedeel nie. God het bepaal dat waarheid met twee of drie getuies bepaal moet word, anders word daar met elke vers oploop gegaan, en baie valse leerstellings berus juis op die ignorering van hierdie belangrike beginsel van die Skrifte:

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

3. Waarheid is net in die hele inhoud van die Woord te vind:

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.


Alle buite-Bybelse bronne is aan die ‘wysheid van die wêreld’ gekoppel en onderworpe.

4. Ons lewe van elke woord wat uit God se mond uitgaan

Ons lewe van elke woord wat uit God se mond uitgaan, al weet ons nie eens daarvan nie. Ons onkunde maak ons nie onskudig aan die Wet nie:

Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Hand 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,

5. God se woord verander nooit en weerspreek ook nie God nie

Jesus is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Hy kan nie iets sê op een gedeelte en dan dit weerspreek in ‘n ander gedeelte van die Skrif nie. Die afvallige Christendom sien die Skrifte dikwels as teenstellings en hou hulle self besig met die sogenaamde kontradiksies of paradokse om slegs grade te verwerf en hulself as baie diep voor te stel.

Die Skrifte praat altyd van net twee persone: die eerste Adam en die tweede Adam.

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Ons almal is eers in die eerste Adam voor ons almal in die tweede Adam verander word:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Vir die onvolwassene natuurlike denke is die twee Adams se stryd iets waaroor God geen beheer het nie. Alhoewel baie weet die tweede Adam is die wenner, sien hulle nie dat die tweede Adam die eerste een gemaak, beheer en totaal gaan red nie:

Open 1:17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste

Dit is dus ‘n “somtotaal” wat gesien moet word en nie ‘n “aftreksom” nie. Die hede, die verlede en die toekoms is een persoon, die lewendmakende gees, Jesus Christus:

Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

6. God se woord is ‘n parabool (gelykenis) van begin tot einde

God praat in gelykenisse (simbole/parabole) vir die natuurlike mens om hom te verblind want vlees en bloed kan nie die geestelike koninkryk van God ingaan nie:

Mat 13:9-11 Wie ore het om te hoor, laat hom hoor! En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

Rom 11:8 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.

Joh 9:39 En Jesus sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.


Baie sê hulle “sien” omdat hulle natuurlike oë het, maar onkunde is iets vreesliks om te aanskou.

Net God maak die boek (waarvan ons onbewustelik gelewe het van geboorte af) met die sewe seëls oop deur Sy lam wat ‘n leeu is!

No comments:

Post a Comment