Mense soek die ‘antichrist’ (die vyand van God) daar buite, iewers in die toekoms, iewers in ‘n fisiese tempel in Jerusalem. As dit waar is, was Johannes verkeerd:
1Jn 2:18 Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.
‘Dit is die laaste uur’ want daar het reeds in Johannes se tyd ‘baie antichriste’ bestaan. Waarvan praat Johannes? Paulus gee meer insigte vir die wat dit kan aanvaar:
2Th 2:4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
2Th 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?
God se ‘teëstander’ verhef homself bo God; en wil aanbid word; en hy sit in die temple van God; en hy gee voor hy is God. Paulus het nie vir een gemeente een ding gesê en vir ‘n ander gemeente iets anders nie. Paulus se briewe was onder die verskeie gemeentes versprei en hy het oral dieselfde evangelie verkondig. Wat Paulus vir die Christene in Korinte gesê het, het hy vir die gemeente in Tessalonika gesê. Kyk waar is God se temple en waar sit die vyand van God:
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
Op watter wyse sit die vyand in God se tempel?
Rom 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.
Hy sit rustig in ons gedagtes! Hy word ook ‘die natuurlike mens’ genoem:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Hier is sy ander naam:
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
Die vyand van God, die antichris, is al die tyd die stofmens, ‘die eerste Adam’, binne-in ons en dit is alles wat ons natuurlik dink – ons natuurlike denke! Om hom te ontbloot is een van die grootste take van ‘die laaste Adam’, Jesus Christus, IN ons. Dit is ons enigste hoop! Daarom moet ons nie gelykvormig word met ‘die eerste Adam’ nie, maar gelykvormig met ‘die laaste Adam’. Hoe doen mens dit?
Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is
Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
Om die dier te sien wat ‘uit die see opkom’ is God se werk in ons:
Open 12:18- 13:1 En ek het op die sand van die see gaan staan. (13:1) En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.
Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
Klink dit bekend?
Pred 3:18 Ek het by myself gedink: dit is ter wille van die mense self dat God hulle toets; hulle moet insien dat hulle niks anders as diere is nie.
Dit is die bitterste pil (eintlik 'n dodelike pil) om te sluk vir enige natuurlike mens.
Monday, May 17, 2010
Subscribe to:
Post Comments (Atom)

No comments:
Post a Comment